LESERSMENING: "Die Reünie"

geskryf deur Lucindia Coetzee 28.07.2020

 

"‘n Reünie lyk altyd vir my na ‘n geleentheid waar die ou skoolboelies weer hulle muscles wil flex en ‘n bespotting wil maak van die skameres onder ons. Dit dan gepaardgaande met ‘n groot gedrink en die groot voorgee om suksesvol te lyk. Dis sommer net ‘n resep vir ‘n groot ramp. En dit is juis hieroor dat Elani Venter se boek my belangstelling geprikkel het... En sy het beslis nie teleurgestel nie!

Alhoewel daar heelwat karakters in die boek is, het die skrywer baie moeite gedoen om aan elkeen unieke karaktereienskappe (in voorkoms en persoonlikheid) te gee sodat dit nie verwarrend word nie. Die karakters is kleurvol, maar beslis nie geskep om innemend of aangenaam te wees nie. Dit is juis deel van die boek se sukses, wat my betref: Die karakters is vol gebreke en geheime wat jou laat aanhou kopkrap.

Ek het gesukkel om van Kato, die hoofkarakter, te hou. Die man is paranoies, neuroties en angstig. Ek kon sy angstigheid heeltyd aanvoel en dit het bygedra tot die spanning in die boek. Soos die storie ontvou het, het ek egter empatie met hom ontwikkel en regtig begin duim vashou dat hy “heel” anderkant gaan uitkom. Die skrywer was baie suksesvol daarin om lesers insig in Kato se geestesgesondheid te gee.

Dis dan ook 'n tema wat deur die boek loop: geestesgesondheid. Dit het ook die lig geskyn op hoe ouers se geestesgesondheid ‘n invloed op hulle kinders het, soos bv met Kato se ma se probleme en alkoholisme. Die tema het beslis die boek interessanter gemaak, want die leser weet nie wat om van die karakters te verwag nie. Hulle bly onvoorspelbaar en amper roekeloos. Die aand van die reünie self was dan ook die hoogtepunt hiervan, nes die boek voorspel het - 'n amper maniese aand van drank, losbandigheid en verwarring. Die skrywer het hierdie gedeelte besonder goed geskryf (sonder om eksplesiet te wees) en daar het ‘n ongemak en afwagting ontstaan oor wat volgende gaan gebeur.

Dit gebeur nie dikwels dat ‘n boek my tot op die einde laat raai nie, maar DIE REÜNIE het dit beslis reggekry en die skrywer het die los drade baie slim bymekaar getrek in die laaste twee hoofstukke. Alhoewel daar geweld en ‘n paar seksuele situasies is, beskryf die skrywer dit baie suksesvol sonder dat sy te grafies raak. Daar is nie ingewikkelde of hoogdawerende taalgebruik nie, wat maak dat die boek beide liefhebbers van ligte leesstof asook die meer gesofisitikeerde lesers gelukkig sal hou."

STUUR JOU LESERSMENING NA ADMIN@NUKKERIG.COM

© 2020 by Nukkerig

1x book = R150

Any 2x books = R250

Any 3x books = R350

  • Facebook
  • Instagram
This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now